Slaan oor na inhoud
Januarie 15, 2013 / MaanKind

Druppende water ‘n ou Chinese vorm van marteling

Hoe lank bly mens geduldig met pyn? Hoe weet jy wanneer jy regtig siek is en wanneer is dit sommer net ‘n kwint of kwaal? Dis seker vir my die moeilikste deel van ouer word, mens weet nie wat is ‘normaal’ en wat nie – jou tydgenote kla van pyne, hulle het skete en siektes. Nou wanneer is jou pyn nou eintlik die moeite werd om oor te kla? Wanneer is dit ‘n regte pyn, en wanneer nie?

Glo dit of nie, hierdie is ‘n martelinstrument!

Vandag het ek besef pyn is maar presies soos ‘n druppel water. Een druppel water op ‘n warm dag op jou warm voorhoof klink salig, maar dit is ‘n ou Chinese vorm van marteling om iemand vas te maak onder ‘n ding wat water drup op sy voorkop. Die vorm van marteling het ontstaan toe hulle gesien het dat ‘n druppende kraan ‘n holte in ‘n klip veroorsaak. Marteling met druppende water!

Net so is die pyn van Post Herpetic Neuralgia. Sommige mense kry dit na Gordelroos. Dit pyn en dit brand, al die fyn senuweepuntjies van die groot senuwee wat aangetas was, is nou beskadig en het letterlik littekentjies op. Sodra die liggaamsdeel begin beweeg, is die senuwees se werk mos nou om aan die werk te spring en boodskappe te stuur sodat die liggaamsdeel sy werk kan doen. (Alles aldus my dokter vandag). En dis dan wat die ding brand en hy pyn. Soms sulke skerp dolksteke in die groter vertakkings van daardie senuwee is genoeg om mens wakker te maak in die nag. Andersins is dit maar net ‘n brand, amper soos wat sonbrand sou voel as dit in jou binnegoed is. Of as jou are met kookwater skoongespoel word. Só voel dit.

Nou in klein hoeveelhede is enige pyn hanteerbaar, maar as dit aan en aan en aaaaaaanhou, dan word dit later so dat jy wil gil en skree of padaf hardloop op sommer net jou kop onder die sand indruk. Pyn takel mens af. Dit maak sommige mense depressief, en ander dryf dit na selfmoord. Toe my dokter my vandag vra waarheen dryf dit my, kon ek net dink aan een woord, GATVOL. Ander mense kan keelvol word, of moeg vir iets, maar ek is nou tot hiertoe met gatvol wees. Gatvol vir my lewe wat onderbreek en beïnvloed word hierdeur. Wat seerkry as ek my blote dagtaak doen. Ek is 56, nie 86 nie! Soos die liewe Martha sê: Jy kan pyn verhoed deur nie die ledemaat te gebruik nie, dis die enigste manier.

Nou ja. Ons lewe ‘n aktiewe lewe, ek hou van fietsry in die dorp, swem in die see, en ek wil begin line dancing doen. Maar soos dinge is, kan ek nie. Nou het die liewe Martha vir my chroniese Lyrica voorgeskryf, sulke sjeeftage S5 goeters. Hou duim vas dat dit werk!

(Hierdie is geensins bedoel om ‘n mediese artikel te wees nie, dis bloot hoe ek dit beleef)

Oktober 18, 2012 / MaanKind

Maar nog is het einde niet

More sal ek weer meer wees as die mens met die Varicella Zoster virus, wat hopelik in sy spoor gestuit is voor hy my oog bereik, was blykbaar fluks op pad soontoe. En dit nogal my oog met die serial nommer! Maar die vit B en Neurobion inspuiting skop al klaar in, en more skop ek daai virus se gat. Hierdie Acyclovir (Anti-virale middel) het reeds die brand laat bedaar na die tweede een. Die naarheid vir die volgende vyf dae is ‘n klein prys om te betaal om weer gesond te voel.

Net toe ek gedink het ek is finaal genees, toe bekruip die dessitste ding my weer. Die afgelope week se hoofpyne, moegheid en lam gevoel het ek maar toegeskryf aan moegheid na ‘n besonder intense besige tyd. Die warm gloede (in my hele lyf, nie die post-menopausale soort nie) moes my seker laat besef het iets is nie reg in my lyf nie…

Die koorsblaar op my lip was ‘n eerste! Dinsdag het ek geskryf: Om ‘n Eerste te beleef is normaalwel baie lekker en opwindend, maar vandag is ek nie baie in my skik met hierdie Eerste nie. ‘n Koorsblaar, ‘n brandende kóórsblaar! Vir die eerste keer in my lewe…

Dit was helaas toe nie ‘n koorsblaar nie…

September 27, 2012 / MaanKind

Wanneer hou dit op?

Die Stats funksie op WordPress is wonderlik! Nie net kan mens sien hoe beland mense op jou blog nie, maar ook watter soekterme hulle gebruik.

Op my MaanKind blog is die top soekterm steeds Gordelroos! Daar gaan nie ‘n dag verby wat daar nie iemand op my blog beland wat soek vir Gordelroos nie.

Search Views
gordelroos 270
maankind wordpress 99
inspirerende gedagtes 97
egiptiese kuns 68
erfenisdag 62
egiptiese gode 60
hier staan ek 55
met die helm gebore 50
selfbeeld 44
maankind 40

Dit kan ek goed verstaan, dit ‘n ‘n eensame siekte. Dis ‘n lang siekte. Dis ‘n peslike siekte. Party dae voel dit soos die Builepes self. Vra maar enige mens wat dit al gehad het, en jy sal so skuins laggie kry, of ‘n verontwaardige snork, of sommer net ‘n beneukte kyk. Dis regtig die een ding wat my in voete onder my uitgeslaan het, omdat mens by geen twee mense dieselfde patroon sien nie. Seker ook daarom dat die dokters aanmekaar simptome behandel, en ook maar hulle skouers optrek en nie verstaan hoe dit voel nie.

Dis maklik om te sê, gaan dadelik dokter toe vir anti-virals, en jy moet ook, maar as dit jou gesond gemaak het, sou daar nie nou so baie mense gewees het wat daarmee sukkel nie.

Een ding wat ek geleer het in hierdie tyd, is hoe die geringste van stres dit weer laat opvlam. En hy vat jou aan jou eina-baardjies, en hy skud vir jou. Selfs al is dit lekker stres. Ek het nou al geleer, rus, lekker rooibostee met heuning om jou te troos, Beroca om net weer al die vitamines in te kry en sommer te sien hoe fluks jou niere werk as jy sien hoe vinnig pie jy geel, en L-Lysine en dan is ek beter oor ‘n dag of wat. Ons werk is van so aard dat ek kan doen wat ek moet, en kan rus as ek klaar is wat nie uitgestel kon word nie.

My skouer en rugkant wat nou weer aangetas was is nog effens seer en met tye branderig, maar die moegheid is die ergste. En hy slaan jou selle wanneer jy dit die minste wil of kan hê, dan voel daar net so dooilikheid in elke sel van jou lyf, dis ‘n snaakse moeg, nie uitgeput soos wanneer jy iets gedoen het nie, soos lewensenergie wat jou verlaat het. Jou Chi is net weg. Gone with the wind. As ek nou soet vir ‘n ruk lank elke dag ‘n groot glas Green Juice drink, en my Beroca, dan voel ek weer vir rukke so vol energie dat ek die wêreld wil versit, en dan sommer skielik, in die middel van ‘n taak, weet ek, ek moet maar klaarmaak met dit waarmee ek besig is…

Nou mense wat my ken weet ek is sag en goedgeaard, en ek moor nie sommer klein goedjies dood nie, maar hierdie virus sal ek nou graag saggies wil sien vertrek… Permaflippent.

Sterkte vir almal wat daaraan ly, of ‘n gesinslid het wat dit het/gehad het. My innige simpatie/empatie.

(Hierdie is nie bedoel om ‘n mediese artikel te wees nie, dis bloot hoe ek dit beleef, en wat vir my gewerk het)

Augustus 19, 2012 / MaanKind

Alweer of nog steeds?

NEE! Nie weer nie! Dit was my eerste gedagte toe ek gister die blaserigheid op my skouer sien. Die afgelope week was ek olik en knieserig, sommer net af en vol pyne. ‘n Paar dae gelede het ek in die nag wakker geword van pyn in die skouer, wat deur die dag so gebrand het dat ek wou huil. Ek ly nie aan arthritis of iets nie, en het myself ook nie beseer nie, maar ek het vir geen oomblik daaraan gedink dat dit weer die blessitste gordelroos is nie. Tot ek die blaserigheid sien… Toe weet ek, en toe ek terugdink, is dit presies hoe dit was toe ek die heel eerste keer siek was.

Gelukkig hou ek L-Lysine aan, en het dadelik sommer 2000 mg per dag begin neem, en ook Beroca, vir die vitamine B12. Dit het sommer gou gehelp en ek voel amper weer myself.

Vanoggend nog het ek op Facebook geskryf: Vir iemand wat nie maklik kwaad word nie, is ek vandag moerig verby. Ek wil daai ding onder sy alie skop, doodmoor of sommer met uiterste geweld uit my lewe smyt. Sal jy sagkens weggaan uit my lyf, asseblief, Varicella Zoster? Voor ek vloek. Daar is nie plek vir beide van ons in een lyf nie, en ek beplan om te bly. So, weg is jy voor ek vloek.

Wat vir my vreemd is, my dokter dring aan dat mens dit definitief net aan een kant kry. Hierdie was my ander skouer. Ek het dit aanvanklik op my regterhand en voorarm gehad, en daardie deel was nou ook (en is steeds) hierdie week bitterlik seer, hoewel die blaserigheid nie weer uitgeslaan het nie. My linkerhand en voorarm was ook aanvanklik aangetas, maar nie so erg soos die regterkant nie. So dokter, al sê jou boeke wat, ek het dit aan beide kante gehad.

Mense sê so vinnig, gaan dadelik dokter toe, vir anti-virale middels. Drie stelle anti-virale middels in die verlede het dit verlig, en vir ‘n ruk onderdruk, maar hierdie week was dit terug met ‘n vengeance! Die rede? Wie sal weet? Ek het regtig nie stres nie, maar het eintlik ‘n baie lekker en opwindende week agter die ruug. Te veel opwinding en adrenalien dalk? Wie sal weet?

Ek weet net, as daar antwoorde was, en as dit maklik behandelbaar was, waarom kry so baie mense dit deesdae? En waarom sukkel so baie mense so lank om gesond te word?

Ek sien ruimte vir ‘n navorsingsprojek, regtigwaar!

Junie 6, 2012 / MaanKind

Lig aan die einde van die Gordelroos tonnel

Elke keer as ek hoor van iemand / iemand se ma / vrou / kind /man of hond se stapper wat Gordelroos het, kry ek hierdie gevoel van – Nóg een?

Mens lees oral dat dit veroorsaak word deur dieselfde virus as die waterpokkievirus, dat dit vir jare sluimerend in jou rugmurg lê en dan op ‘n dag (by veral ouer mense) uitslaan as Gordelroos. Maar net as jy reeds waterpokkies as kind gehad het.

Vroeër jare was dit iets waarvan mens maar selde gehoor het, maar deesdae klink dit vir my darem net té algemeen. Too close for comfort. Wat het verander dat soveel mense dit deesdae kry? Net in ons dorp is daar sommer ‘n hele klomp mense.

Wat kyk ons mis? Hoekom word mense nie gesond nie? Hoekom word elke persoon verskillend met verskillende middels behandel? hoekom kry so baie mense dit?

Ekself kan steeds voel dat daar iets so net-net onder die oppervlak bly sit, ek raak steeds maklik emosioneel, en party dae is ek sommer net plein moeg en kan ek voel my aangetaste arm maak sulke pyne. Sommer net pyne, en my vel is steeds meer sensitief as voorheen. Op sulke dae brand my oë, en voel dit krapperig.  Maar die aakligste deel van gordelroos, daardie dooie gevoel in mens se selle is weg, nou is dit maklik om simpel pyne te hanteer, en huil is mos gesond, of hoe?

Ek sien hier ‘n gaping vir navorsing…

Maart 26, 2012 / MaanKind

L-Lysine = 1 Gordelroos = 0

Take L-Lysine, 1000 – 2000 mg /day.

Dit was waarskynlik die beste advies wat ek sedert Augustus 2011 gekry het, toe Gordelroos sy aaklige kloutjies wat erger steek as duisende turksvydorinkies, in my ingeslaan het. En gehou het.

Geen antivirale middels, pynmedikasie, anti-depressante, anti-inflammatoriese middels, kortisone of enige iets anders deur die dokter voorgeskryf, werk soos hierdie eenvoudige aminosuur aanvulling nie! Ek het aanhoudend siek geword, en nuwe blase uitgeslaan, maar niks het regtig gehelp vir die virus, of vir die Post Herpetic Neuralgia, totdat ek  L-Lysine begin neem het nie. Ook elke dag ‘n Beroca, vir die Vit B’s en die Foliensuur.

Mense gaan my dalk nie glo nie, maar my sig wat die afgelope maande regtig erg versleg het, het dramaties verbeter, na die tweede dosis. En my hare het begin krul, en dit is ‘n gawe bonus! Sommer net so, na 55 jaar.

(Hierdie is nie bedoel om ‘n mediese artikel te wees nie, dis bloot hoe ek dit beleef, en wat vir my gewerk het)

 

Maart 22, 2012 / MaanKind

Om te huil, omdat die kos so lekker is!

Hierdie was ‘n vinnige skrywe, voordat ek vir die eerste keer op ‘n TREP gegaan het…

Danksy ‘n klein komplikasietje soos  gediagnoseer ongeveer drie maande na die eerste siekword van gordelroos, by name Postherpetic Neuralgia (PHN).  It is a serious complication of herpes zoster that has a predilection for older individuals. Older individuals nogal. Saam met die Trepiline het die dokter ook vir my ‘n lekker groot dosis van Ibuprofen voorgeskryf. Want ek het gepyn. En ek het gebrand. En gesukkel om te trap, te sit of te  lê, alles was sensitief en seer.

Onlangs moes ‘n vriendin wat Gordelroos het, noodbehandeling kry nadat sy paniekbevange geraak het en haar liggaam in een of ander adrenalien / kortisol feedbackloop gegaan het waaruit sy nie meer self kon kom nie. Sy beskryf dit op haar blog.

Na die episode het sy vir my gesê dat sy dink die emosionele komponent van gordelroos word onderbeklemtoon. Sela!

Ek het voorheen geskryf oor my belewenis van gordelroos, maar ek het ook nie regtig geskryf hoe angstig mens soms sonder rede voel nie. Die afgelope tyd het ek so lekker gehuil soos nog nooit in my lewe nie, oor hartseer goed, oor mooi goed en of dit nou lelik was of seer of lekker,  my emosies was moeilik om te hanteer of te onderdruk. Ek het een oggend in ‘n restaurant oor my kos getjank, omdat dit ‘n mooi dag in Hermanus was, en die kos lekker. Bid jou aan.

‘n Vriendin se man het weer in ‘n woedebui by die werk uitgebars, en aan die skreeu gegaan. ‘n Ander vriend van ons het weer sulke vreemde besigheidsbesluite geneem tydens emosionele sessies, sommer so in sy bakkie op die snelweg. Nog ‘n vriendin se man het haar een nag al huilend op die bank gekry, sy wou nie so aangaan, en met hierdie Dessitste Ding verder saamleef nie.

Vyf mense, vyf verskillende reaksies, almal teen die persoon se karakter in. Ek kan net vir myself praat, maar tydens so ‘n sessie, kan ek voel dat dit onnatuurlik vir my lyf is, maar kan nogtans nie help daarvoor nie.

Maar nou gaan ek eers weer op my TREP… Trepiline… Ek is steeds daarop, na amper vier maande. En ek kan eerlikwaar sê as ek terugkyk, het dit my emosioneel geweldig gestabiliseer.

What is the treatment for Postherpetic Neuralgia?

Antidepressants – these help patients with postherpetic neuralgia not because the patient is depressed, but because they affect key brain chemicals, such as serotonin and norepinephrine, which influence not only depression, but also how the body interprets pain.

What are the causes of Postherpetic Neuralgia?

The nerve damage caused by shingles disrupts the proper functioning of the nerve. The faulty nerve becomes confused and sends random, chaotic (uncontrolled) pain signals to the brain, which the patient feels as a throbbing, burning pain along the nerve.

(Hierdie is nie bedoel om ‘n mediese artikel te wees nie, dis bloot hoe ek dit beleef)

Maart 21, 2012 / MaanKind

Gordelroos slaan toe

Enige ou wat al ooit Gordelroos (oftewel Shingles) gehad het sal weet, tydens die akute fase voel dit of jy gek word, dis ‘n brand en pyn wat moeilik beskryf kan word. En geen pil help vir daardie pyn nie. Niks help nie. NIKS. Jou kop voel of dit met ‘n fietspomp opgepomp is, jy brand asof iemand al jou velle met ‘n pomelomessie afgeskil het (en jou hier en daar met die skerp puntjie raak geraps het), en jy pyn soos wat soos jou rug voel met geboortepyne, net dit is oor jou hele lyf en in elke been en buigplek. Jou spiere bestaan nie, anders sou dit ook seer gewees het. Amper vergeet ek van die naar en jy wil opgooi, maar jou spiere is te seer om op te gooi… Eers later het ek gehoor van die rou senuwee, want die virus het die omhulsel aangeval en opgevreet! Dit gee nuwe betekenis aan die term Rou Senuwee. My ribbebene het gekneus gevoel, en my diafragma een groot plat stuk seer wat my lyf deur ‘n pynstrook in twee gedeel het.

Dit alles het maar net vir my aan die begin soos  ’n baie kwaai griep gevoel, en ek het gewonder hoekom help niks vir die pyn nie.

Die rooi kolle met blasies het ek toegeskryf aan die kat se vlooie en  MaanMan het haar dadelik ‘n Capstar ingejaag. Ek het sommer Colloidal Silver gel aangesmeer wat dadelik die brand laat bedaar het.  ’n Vriendin in die mediese wêreld het my arm een kyk gegee en gesê, jou árme mens! Gordelroos is niemand se maat nie. Toe eers drop die pennie. Ek het Opgevra Boontoe, en die antwoord was eenvoudig: Natuurlik is dit Gordelroos, hou maar aan met die Silver smeer. En toe was dit te laat vir antivirale middels. As ‘n mens tydens die akute fase antivirale middels kry, help dit klaarblyklik om vinniger te genees.

Ek het tydens die akute fase te siek gevoel om dokter toe te gaan, want ons dokter was weg, die vennoot op kraamverlof en die locum oorwerk.  Ek sou moes sit en wag, sonder waarborg dat hy my wel sou kon sien. En dit was boonop Saterdag. Toe dink ek mos dit is kwaai griep, en dit sal oorgaan.

Teen die Maandag het ek beter begin voel, maar toe slaan my arm in so lang ry blase uit. Ek weet nie of dit van skrik of pyn was nie, maar ek kon nie ophou tjank nie. Later eers het ek agtergekom dat ek op vreemde tye oor niks gehuil het nie, sommer net gehuil.

Vir weke lank het dit gevoel asof die balans in my selle met tye net deurmekaar is, en elke greintjie energie uit elke sel my lyf verlaat. My alignment was uit, my lyf se kompas wys skuins verby noord. Veral die arm wat aangetas was, was swak, my spiere wou nie werk nie, en goed het sommer uit my hande geval. Dit gebeur steeds dat ek nie kan vasvat nie, en ‘n bottel konfyt kry ek nie oop nie. Dit word darem nou geleidelik beter.

Na ‘n paar maande, was ek steeds af, sommer net af. Moeg. Baie dae staan ek vol energie op en gaan aan met my dag, maar dan in die middel van ‘n geringe taak, dan voel dit net of ek nie een enkele tree verder kan stap nie. Ek weet al, drink maar bietjie water, gaan sit ‘n rukkie, en gaan dan weer aan. Ek dink en reageer steeds bietjie in  s t a d i g e  a k s i e.

Later meer oor die emosionele sy van gordelroos, en hoe ek terugslae ervaar het.

Onthou asseblief hierdie is slegs my persoonlike ervaring, gaan sien asseblief dadelik jou dokter as jy enigsins vermoed dat jy wel gordelroos het.

 

 

Maart 20, 2012 / MaanKind

Waarom hierdie blog?

Elke dag as ek na my Blog Stats kyk, dan is daar iemand wat op my blog afgekom met die soekterm Gordelroos. Dit is by verre die soekterm waarmee die meeste mense op my blog afkom. Dit beteken dat daar baie mense is wat self Gordelroos het, of iemand na aan hulle wat dit het. Elke persoon met wie ek die afgelope maande gepraat het wat of self gordelroos het, of iemand na aan hom, het dieselfde moedeloosheid as ek ervaar, omdat hulle nie inligting kry oor hoe dit werklik voel nie.

Hierdie is geensins ‘n mediese blog nie, die inligting is bloot my persoonlike ervaringe, en ek wil net alles wat ek daaroor gevoel en gesê het in een plek bymekaar hou, sadat dit moontlik vir ander iets kan beteken wat die belewing van die siekte beter kan verstaan.

Dit is regtig die siekste wat ek nog in my hele lewe was, en daarom wil ek graag vir almal wat daaroor inligting soek, moed gee dat dit wel oorgaan (al voel dit nie so nie), en  vertel hoe dit my geaffekteer het. Miskien voel jy dan minder alleen, want die vet weet, dit is ‘n eensame siekte, omdat dit so lank aanhou. Aan die begin is almal jammer vir jou, maar wanneer die rooi en die blase verdwyn het en daar nie meer sigbare letsels is nie, net dowwe rooi/pers merkies, en die tyd stap aan, begin die simpatie ook opdroog. Jy lyk immers gesond.

Natuurlik is een van die eerste dinge wat mense doen, om te Google daaroor, en daar vind jy al die dinge wat die dokter jou ook vertel, die simptome en die behandeling. Wat niemand my vertel het nie, is die emosionele sy daarvan. Die huilbuie, die snaakse depressiewe gevoel, sonder dat jy terneergedruk voel.

Niemand het ook vir my gesê dit gaan so lank aanhou nie.

Die een dag wat ek op my heel moedeloosste was omdat ek nie gou genoeg na my sin herstel het nie, het ek hierdie boodskap van Neale Donald Walsch gekry:

I believe God wants you to know that the cycles of life are endless — and always serve you, because life is a process that serves Life Itself.

When things seeem to be shifting away from you, moving in the other direction, closing doors, shutting own opportunities, remember that all things are cyclical — including Life Itself.

What you are experiencing is temporary — whether it’s ”good” OR “bad.” So stop calling it one thing or the other, and simply embrace it as What’s Happening Now.

You’ll move through it all much more peacefully

Hierdie is die soekterme wat mense die afgelope paar maande gebruik het:

Search Views
gordelroos 134
inspirerende gedagtes 65
hier staan ek 47
maankind 45
selfbeeld 41
http://maankind.wordpress.com/ 40
maankind wordpress 29
met die helm gebore 29
egiptiese kuns 28
yskas 23
my beste vakansie 19
naak seuntjie 18
kreatiewe skryfwerk 18
egiptiese gode 17
ou afrikaanse woorde 16
idiome 15
sywurms 13
matriekvakansie 10
wat is gordelroos 9
gratis afrikaanse e boeke 9
Beste wense vir jou, wat moontlik self gordelroos het, gehad het, of iemand ken wat dit het.
Trisa Hugo